Wednesday, December 21, 2011

Laaste nuus van 2011

Ek sien dit is alweer mooi meer as 'n maand gelede dat ek iets op die blog geplaas het! So spoed die tyd verby en is dit byna einde van die jaar. As ons terugkyk op die jaar, was dit beslis nie een van die maklikste jare vir ons nie maar ons het oorleef! Finansieël was dit 'n stryd om die wolf van die deur af weg te hou en so sal dit seker nog vir 'n tyd wees maar ek glo ons is op die plek waar ons moet wees en het veel stof tot dankbaarheid.


 Die laaste paar maande het ons baie verliese op materiële gebied gelei maar is elke keer wonderbaarlik bewaar op persoonlike vlak. As ek nou so terugdink besef ek dat ons teëspoed dikwels met "wiele" te make gehad het... die sleepwa se wiel het afgebreek, daarna die Prado se wiel by die as afgebreek (terwyl ek agter die stuur was) , ons bakkkie se wiele is snags afgesteel by Ouma se agterdeur en daarna 'n vragmotor deur ons wildheining gebars. Nou-ja, eind goed en alles loop en draai weer vir die grootste gedeelte!


'n Paar foto's van die trok-ongeluk:


Hier is die trok deur die vang-reling en teen die afgrond af


Die wrakstuk -seker so 100 meter verder
Die kajuit- kan nie glo die bestuurder het lewendig hier uitgekom nie!
Die bak- die trok het gruis vervoer
 
'n Nuwe "pad"vir ons gemaak en sommer ontbos ook!


Ons woon die afsluiting van die byevereniging by en het 'n baie aangename en leersame dag. 
Estelle en Gian- veilig!

Maar die bye hou van Gian se parfuum!



In die borrelbad onder die maanlig
....met 'n glasie wyn
Dit is weer Kerstyd en altyd vir ons lekker om gedurende die tyd van die jaar tyd te maak vir gesin en familie. Ons mis die "ver" kinders baie meer as gewoonlik. Helena se laaste maande in Gent het ook alweer aangebreek en net die kort vakansie en eksamen bly nog oor. Vir Andreas ook 'n ruskansie en gelukkig kan hy en Helena darem bietjie saam kuier.  Gelukkig is Gian tuis en die afgelope twee weke was ons bevoorreg om sy woonstelmaat van die afgelope paar maande hier op besoek te hê. Carolien Bogaerts is 'n uitruilstudent uit België en het in Helena se plek met Gian 'n woonstel gedeel. Ons was ook 'n naweek in die Drakensberge waar ons Dries se verjaardag gevier het.  Carolien het alles hier baie geniet. Dries hulle het gaan bye uithaal by 'n buurman en dit was ook 'n ervaring. 

Bye in tuinhuisie by die buurman

Dries se eie houtskool-oond 

Drakenberge


Howick waterval

Carolien gee die hanslam melk
  By die Wasbank Boerevereniging se afsluiting, is daar ook krieket gespeel. Sommige spelers vir die eerste keer maar daar is  teen niemand gediskrimineer nie!











Thursday, November 3, 2011

Die begin van die somer... en die diere op die plaas

Dit is November-maand en die somertydperkerk het aangebreek hier aan die Suidpunt van Afrika. Gelukkig bied die weer ons darem altyd iets om oor te praat, so ek sal dan ook daaroor begin! Sommige dae al baie warm... oor die 30 grade en dan net weer die volgende dag 17 grade! Ons het darem al so 20 mm reën gehad en die veld lyk mooi. Die somer is ook die seisoen waar jong diere gebore word en die jaar het ons 3 perde-vulletjies ryker geword, heelwat lammertjies en baie kalfies. Dit is altyd 'n vreugde! Jansie het ook weer haar bydrae gemaak met 11 hondjies en ons soek nog net vir 3 nuwe eienaars. Die kapokkie het 10 eiers uitgebroei. Ons het haar so bietjie verkul deur gewone hoendereiers te gee! een van die dae is die kuikens groter as sy! Ouma het egte lê-henne gekoop en so groei ons boerdery aan....


Jansie se kleintjies
Die skaaphondjies, ses weke oud




Ons kapokkie "Annatjie" met haar 10 kuikens




Is ek nie te pragtig nie?


'n Paar koeie met kalfies

Die derde vulletjie... 'n besonderse kleur
Andreas het tydens sy vakansie 3 varkies gekoop by die veiling. Ons wou kyk of dit die moeite werd is om hulle 'n tydjie te voer en dan te verkoop ... en ja, hoor, beslis 'n sukses. Die foto's is nou al 'n rukkie gelede geneem  en nou is hulle al heelwat groter. 




Tiny stel ook belang!
 Die elandvers het ook weer 'n draai kom maak

Ouma koop egte lê-henne!
Ons "ouer" troeteldiertjies is ook nog altyd hier om ons te vermaak.... elkeen op sy eie unieke manier. 

Tiny se rug jeuk tog so!


Blondie en Spokie geniet die uitstappie in die veld
Storie glo sy moet saamstap, maar sy is nie so baie fiks nie...kyk hoe moeg is sy!









Monday, October 17, 2011

'n Versigtige begin!

Nou-ja, ek het gedink dit sal dalk 'n maklike manier wees om vriende van oral-oor te vertel waarmee ons besig is hier op Biggarsgat.... so 'n versigtige begin met ons eie blog!

Ek sal probeer om  gereeld berigte te plaas en wil julle uitnooi om kommentaar te lewer asseblief! Neem gerus 'n kykie....