Monday, March 5, 2012

Februarie/ Maart 2012 - Slang, reën, 'n troue en operasie

Al 'n eindjie op pad in die derde maand van die jaar. Die keer het ek nie soveel om te vertel nie.

Ek kan soms nie glo dat ek van 'n vreeslike stadsjapie ontaard het in 'n regte boervrou nie! Toe ek en Dries getroud is, was dit ver van my gedagtes dat ek eendag op 'n plaas sou bly en so na aan en afhanklik van die natuur sou wees. Hier is 'n paar ongeskrewe reëls in ons huishouding waaronder die reël oor paddatjies. Hulle is mos onskadelik en oulik en word dus nie uitgejaag as hulle by een van die openstaande deure inkom nie. Boonop vang hulle goggas soos muskiete en vlieë. Ouma Gerrie is nie so "gecharmeerd" van my idee oor padda's nie want sy sê hulle lok slange- haar doodsvyand, en nogal volop hier by ons en ja, eendag kom maak Happy alarm dat daar 'n slang in Helena se kamer is! Na 'n redelike gestoei en nadat hulle 'n kas so gedeeltelik moes demonteer, het die Dries die slang doodgemaak en raai... die knop in sy maag blyk 'n paddatjie te wees!!! Nou-ja, dat my huis-paddatjie nou so aan sy einde moes kom...



Daar word hard gewerk aan ons paaie om dit meer toeganklikte maak vir die komende seisoen:

Die paadjie is redelik skuins en verg nogal heelwat aandag


Na ons tweede behoorlike reënbuitjie van die seisoen is Andreas se dam vol tot by die oorloop. Dries gaan maak die oorloop oop maar tydens die nag kry ons nog 'n swaar reënbui en is die damwal nie bestand teen die aanslag nie. Ons het wel baie grond opgevang en sal maar tydens die winter weer die damwal herstel. 

Die dammetjie is mooi vol

Dries maak die oorloop oop

Blondie help ook! (soos gewoonlik)

Na die reën - die damwal het gebreek



Darem al baie mooi grond opgevang
Ons het weer na 'n lang tyd 'n troue in die familie. Trudie se seun, Johann en Joleen trou op 18 Februarie. Dit is 'n baie nat dag maar die weer is hulle goedgesind en alles verloop goed. Al die boere is dankbaar oor die laat reën. Bietjie laat vir die veld om nog mooi uit te loop voor die winter en 'n goeie opvolg sal ook baie welkom wees, maar dit bring sekerlik verligting!
Joleen en Johann


Ons pak die bul by die horings en ek gaan op 21 Eebruarie hospitaal toe vir 'n knie-vervanging. Dit was noodsaaklik... en omdat ek nou tuis is, het ek tyd vir die blog! Tot 'n volgende keer..... 
"Before"...

.. en "after" -'n splinternuwe gewrig

"Walkies"- Die glimlag is om die kinders te flous....

Dankie vir die sjokolade Andreas en Ante



Januarie 2012 - 'n Nuwe jaar met sy eie uitdagings!

 Tyd staan nie stil nie en ook nie hier op die plaas nie! Ons kuiergaste sê altyd dat dit so stil en rustig is hier maar dit is maar net op die oppervlak... Die ou jaar het ons vir die nuwe verwissel deur by ons fonteindam te kampeer. Lyk my dit gaan nou 'n instelling word! Gian het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om sy vissermans-talente te beoefen.
Gian se "water-bed"

Mooi groot bass! 


































Dries en Gian het die hele plaas afgestap om opnames te maak met die GPS vir nuwe kampe. Hele paar kilometers is afgelê en die nuwe kampdraad is al intussen gespan. Met die min reën wat ons die seisoen gehad het, is dit beslis noodsaaklik vir effektiewe bestuur. 

Gian inspekteer die nuwe kampdraad

Die honde is uitgeput!

Tiny soek bietjie verkoeling!



Tydens Andreas se vakansie het hulle begin met 'n nuwe dammetjie in die donga onder die boord. Na die eerste reën het die dammetjie al mooi water opgevang. Die water is van hier af uitgehewel na Oupa se dam vanwaar besproei kan word.

Dammetjie na eerste reën


Ons klein hondjie het leeuwe-moed!

Gian!

'n Paar foto's van ons wilde en mak diere:

Klein eendjies op Ouma se dam
Is daar nog enetjie?

Ai daardie beentjie lyk lekker!


Koedoes by die vlakte-dam


Die elande kom af en toe wys hoe groot hulle geword het. 

Ons "werf"-hoendertjies se slaapplek is in die boom voor die sitkamervenster

Die zebra's kom ook weer oë wys


Die nuutste toevoeging tot die honde-familie op die plaas- Wolfie

Al byna net so groot soos Jip!
Panorama van die plaas

Wednesday, December 21, 2011

Laaste nuus van 2011

Ek sien dit is alweer mooi meer as 'n maand gelede dat ek iets op die blog geplaas het! So spoed die tyd verby en is dit byna einde van die jaar. As ons terugkyk op die jaar, was dit beslis nie een van die maklikste jare vir ons nie maar ons het oorleef! Finansieël was dit 'n stryd om die wolf van die deur af weg te hou en so sal dit seker nog vir 'n tyd wees maar ek glo ons is op die plek waar ons moet wees en het veel stof tot dankbaarheid.


 Die laaste paar maande het ons baie verliese op materiële gebied gelei maar is elke keer wonderbaarlik bewaar op persoonlike vlak. As ek nou so terugdink besef ek dat ons teëspoed dikwels met "wiele" te make gehad het... die sleepwa se wiel het afgebreek, daarna die Prado se wiel by die as afgebreek (terwyl ek agter die stuur was) , ons bakkkie se wiele is snags afgesteel by Ouma se agterdeur en daarna 'n vragmotor deur ons wildheining gebars. Nou-ja, eind goed en alles loop en draai weer vir die grootste gedeelte!


'n Paar foto's van die trok-ongeluk:


Hier is die trok deur die vang-reling en teen die afgrond af


Die wrakstuk -seker so 100 meter verder
Die kajuit- kan nie glo die bestuurder het lewendig hier uitgekom nie!
Die bak- die trok het gruis vervoer
 
'n Nuwe "pad"vir ons gemaak en sommer ontbos ook!


Ons woon die afsluiting van die byevereniging by en het 'n baie aangename en leersame dag. 
Estelle en Gian- veilig!

Maar die bye hou van Gian se parfuum!



In die borrelbad onder die maanlig
....met 'n glasie wyn
Dit is weer Kerstyd en altyd vir ons lekker om gedurende die tyd van die jaar tyd te maak vir gesin en familie. Ons mis die "ver" kinders baie meer as gewoonlik. Helena se laaste maande in Gent het ook alweer aangebreek en net die kort vakansie en eksamen bly nog oor. Vir Andreas ook 'n ruskansie en gelukkig kan hy en Helena darem bietjie saam kuier.  Gelukkig is Gian tuis en die afgelope twee weke was ons bevoorreg om sy woonstelmaat van die afgelope paar maande hier op besoek te hê. Carolien Bogaerts is 'n uitruilstudent uit België en het in Helena se plek met Gian 'n woonstel gedeel. Ons was ook 'n naweek in die Drakensberge waar ons Dries se verjaardag gevier het.  Carolien het alles hier baie geniet. Dries hulle het gaan bye uithaal by 'n buurman en dit was ook 'n ervaring. 

Bye in tuinhuisie by die buurman

Dries se eie houtskool-oond 

Drakenberge


Howick waterval

Carolien gee die hanslam melk
  By die Wasbank Boerevereniging se afsluiting, is daar ook krieket gespeel. Sommige spelers vir die eerste keer maar daar is  teen niemand gediskrimineer nie!